Loop se dag

Afrikaans is só n mooi beskrywende taal, met woorde wat

met emosie,

in emosie en baie dubbelsinnig gebruik kan word.

Dit is seker een van die tale in die wêreld met die meeste sinnonieme.

Vat nou byvoorbeeld die woord: Loop.

Loop het sy oorsprong in oud Russies en beskryf die aksie om te reis te voet, maar toe die Afrikaners vir hom beetgekry het, het dinge effens meer ingewikkeld geraak.

In Afrikaans is dit nie net ‘n werkwoord nie, maar ook ‘n selfstandige naamwoord en soms ook n byvoeglike naamwoord.

Oor die algemeen word die woord as loop uitgespreek, maar as jy nou in die Kaap woon, dan sal jy vir hom hoor as “loep

– soos in “loep regyt hys toe neh?”

OF as jy in die Namakwaland woon sal jy vir hom hoor as “lôop

– soos in “hene mens jy is so maer, as jy langs n wit muur lôop, lyk dit n kraak beweeg!”

As ‘n Afrikaanse kind, kan jy vir jou lelik vasloop as jy gevang word dat jy wegloop van die skool af en losloop in die strate.  As jy gevang word, moet jy hardloop om by die huis te kom, want as jou Pa vir jou inloop, gaan die trane behoorlik loop, want jou boude gaan lekker deurloop.

As grootmens, word die pad wat jy moet loop darem op kolle makliker. 

Dan mag jy loop soos en waar jy wil, en is dit vreeslik lekker om ou vriende raak te loop, tensy dit ‘n old flame is, dan probeer jy hulle maar eerder misloop.

Wanneer jy jou eerste kar kry, dan begin loop dinge soos stroop, want dan is al die sirkels loop vir ‘n geleentheid tot waar jy wil wees eers op ‘n end,

jy gaan nie jou nuwe skoene deurloop nie,

jy hoef nie te weet wanneer die bus loop nie

plus jy kan natuurlik deur die rivier loop gaan sonder om nat te word, mits jou kar se enjin seepglad loop.

Soms loop mens natuurlik ook uitdagings raak, soos toe dié Covid besigheid gekom het.

Toe die wêreld toegesluit was, kon mens nêrens loop nie, nie eens wegloop nie

en toe daar uiteindelik weer geloop kon word, moes ons baaaie versigtig loop….

……met ‘n ou maskertjie,

want as jy nou die slag genoeg asem het om te weet waarheen jy wil loop, is die kanse goed dat die bril toegewasem is en jy regtig moet mooi kyk om te kan loop.

Ag, en moet tog net nie die sanitizingstationtjie misloop nie,

want dan moet jy weer ligloop vir die yweriges wat jou sal agterna loop en toesien dat jy die stasie raakloop,

onder die loop van die koorsmeter kan staan en dan

kan wegloop met nog ‘n stukkie krokodilvel.

Liggelowiges het op kolle die paniek tot epidermiese proporsies geneem en vir jou eie gesonde verstand se behoud, moes mens maar …

wel wegloop,

sodat jy nie die vreugdes van jou eie lewe misloop nie.

Gelukkig het elkeen mos vrye wil ontvang, nê? 

Vrye wil om te kies om te loop soos jy wat wil loop of om te kies om te loop soos jy weet jy moet loop.

Daar lê n reuse uitdaging in, want dié wat loop soos hul wil,

wil hê ander moet saamloop soos húlle wil loop

en dan loop staan en sê hulle almal voor hoe dat hul moet loop,

want hul glo hulle loop is die enigste loop wat geloop kan word.

Dus moet mens maar wakker loop; …..net soos mens loop met roomgesmeerde voete in jou skoene.

En nou dat ons vir loop goed deurgeloop het, groet ek met

vir my een van die mooiste maniere van groet..

Só positief en nie finaal nie; net n mooi warm wens  …..

En letterlik,

goeie raad.  

Mooi loop.

☆rsump090822