Verander van rat

Meeste mense sit al vir jare of selfs dekades in dieselfde rat. Ek ook.

Sedert Covid getref het, sit almal wat in n rat sit, in min of meer dieselfde rat. Ek ook.

Eks die laaste tyd nie meer té gerus met die gevoel nie, maar tot hier het dit my gepas, omdat dit maar net die minste weerstand gebied het, maar nou wìl ek, nee, mòèt ek verander van rat. Dis tyd.

Hulle sê nie verniet dat dood altyd n oorsaak het nie, en, ek vermoed die oorsaak van my rat se dood, het sy oorsprong in die inperkingstydperk.

Dit was n tyd van onsekerheid, mismoedigheid, irritasie en refleksie. In introspeksie het ek n paar goed oor myself herontdek en selfs geleer!

Ek is n loner, n introvert, wat ter wille van oorlewing ekstrovert-maniere moes aanleer om te oorleef. Ek het, deur genade in een stuk anderkant uitgekom, maar nou is dit weer tyd vir n nuwe fase, om te verander van rat.

Ek was nooit weg nie, maar ek soek nou weer myself; meer vir myself. Treurige toedrag van sake wanneer jy self begin wonder wat die antwoorde op jou vrae moet en nie behoort te wees nie. Ek het nie só baie vrae nie, maar ek het wel n tekort aan n paar antwoorde.

Ek glo baie sterk daaraan dat n mens baie selfsugtig moet wees in jou besluite oor jou eie geluk. Vir my het dit nog nooit in die geskiedenis van besluite neem, gebaat om populêre besluite te neem of keuses te maak nie. Ek is net nie só aanmekaar gesit nie. As ek nie gelukkig is in my omstandighede nie, beteken dit ek het êrens n verkeerde keuse gemaak en moet ek dit self regmaak. As ek nie gelukkig is nie, beteken ek te min vir dié om my. As ek eerlik is met myself, weet ek dat wanneer ek nie gelukkig is in n situasie nie, dan gaan dit maar swaar met dié naaste aan my. Ek is troebel, terrible two troebel. Ek is nou maar eenmaal net nie gebou om n people pleaser te wees nie.

My logika werk in wit en swart. Reg of weg. Bly of gly. Straight forward, down the line!

Elke fase van my lewe het sy oppe en affe gehad en ek het self gekies om groot opofferings te maak vir my gesin en familie. Berou geen een nie en is ook nie ongelukkig daarmee nie. Inteendeel, die Here was nog altyd en is steeds baie goed vir my, want as ek self my tweede kans kon beplan sou ek dit geensins beter kon doen nie. Ek is uit my sokkies geseën. Nou is dit egter tyd om te groei, n nuwe fase te begin…. te verander van rat.

n Nuwe fase waarin ek heel verdwaal staan. n Fase met gedagtes waar ek mooi moet dink oor hoe om te verander van rat. Met ouderdom, kom verandering en gelukkig ook dinge soos geduld, perspektief, rustigheid en n mate van selfsugtige begeerte om weer op mý te fokus en weer iets vir mý te doen.

Ek wil verander van rat, en

  • my tyd my eie maak met mý in bevel van my skedule;
  • weer leer om nee te sê sonder om skuldig te voel;
  • weg kom van mense wat onsensitief is vir my behoeftes en my prioriteite en skaamteloos my tyd opneem oor my naam op n lys staan;
  • my naam van elke lys afvee en self kies wanneer ek beskikbaar is;
  • weer kreatief wees wanneer die inspirasie my beetpak en dit te kan doen, op my eie skedule;
  • nuwe vaardighede aanleer om in my droom-projekte myself te kan help om dit te laat realiseer;
  • ophou op standby wees vir enigiets, enigiemand;
  • eksklusief fokus op my en myne.

Ek wil selfsugtig verander van rat in die hoop dat diegene buite my gesin en familie my keuses en wense sal respekteer.

Is dit te veel gevra?

☆rsump1108226

One thought on “Verander van rat

  1. Nee, jy mag afskaal en net op jouself en jou gesin fokus. Die lewe is te kort om die heeltyd na ander se pype te dans en om heeltyd dienende Martha te wees wat saans stokflou sonder energie by die huis op die bed neerval.

    Liked by 1 person

Leave a comment